Koerant publiseer wéér omstrede sketse
2010-01-09 00:43
Oslo - Die Noorse koerant, Aftenposten, het Vrydag weer grafiese sketse van die profeet Mohammed deur die spotprenttekenaar Kurt Westergaard gepubliseer.
Die koerant het, in ’n berig oor Westergaard, ses van die 12 sketse gepubliseer. Moslems was woedend toe ’n Deense koerant, Jyllands-Posten, vir die eerste keer in 2005 dié sketse gepubliseer het.
Verskeie van die sketse koppel Islam en die profeet Mohammed aan terrorisme en selfmoord-bomaanvalle en een spotprent wys die profeet met ’n bom-vormige hoed.
Op 2 Januarie het ’n 28-jarige man glo met ‘n byl in die hand by die huis van Kurt Westergaard ingebreek.
Hy is geskiet en toe gearresteer deur die polisie.
Die redakteur van Aftenposten, Hilde Haugsgjerd, het gesê die aanval op Westergaard “regverdig die herpublisering van die sketse, aangesien dit die oorsaak is wat gely het tot die geweld”.
Skare reg oor die Moslem-wêreld het betoog. Talle is dood en groot skade is aan die Deense ambassade aangebring.
-Sapa