Knox was glo seksueel geteister in die tronk
2011-10-08 10:14
Los Angeles – Amanda Knox beweer sy was seksueel geteister deur ‘n beampte van die tronk waar sy vir vier jaar in Italië aangehou was, het die skeppers van ‘n televisie-program wat die naweek uitgesaai gaan word bekendgemaak.
Knox, wat teruggekeer het na Seattle nadat sy vrygespreek is van moord en seksuele aanranding, sê die “hooggeplaasde administrateur” het haar alleen in die aande na sy kantoor geroep om oor seks te praat.
“Hy was gefokus op die onderwerp van seks, met wie ek dit gedoen het, hoe ek daarvan hou, of ek dit met hom wil doen,” het ‘n brief van Knox gelui.
“Toe ek agterkom dat hy eintlik met my oor seks wil praat het ek die onderwerp probeer verander,” het sy gesê.
CBS saai die program 48 Hours Mystery Saterdag uit.
Die 24-jarige Knox het geskryf: “Ek besef nou hy het my getoets om te sien of ek sleg reageer, om my persoonlik te verstaan. Hy wou ‘n reaksie of inligting uit my kry. Ek het nie die erns van die situasie verstaan nie.”
Knox en haar Italiaanse eks-kêrel Raffaele Sollecito is Maandag in Perugia vrygelaat nadat hulle in 2007 skuldig bevind was aan die grusame moord van die Britse student Meredith Kercher.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP