Knox-verhoor in Italië hervat
2011-09-05 12:17
Perugia – Die appèlsaak van Amanda Knox, die Amerikaanse student wat skuldig bevind is aan die moord op haar Britse kamermaat in ‘n oorsese studieprogram, sal sy eindfase ingaan wanneer dit Maandag hervat word.
Volgens Knox se familie, is die 24-jarige van Seattle, wat sedert November 2007 agter tralies is, verlig om terug te wees in die hof ná die somerbreuk, maar voel sy ook angstig soos wat die verhoor sy einde nader.
Die slagoffer, Meredith Kercher, se suster het in ‘n brief aan die appèlhof gevra dat die hof “elke enkele (stukkie) bewys” nagaan sodat geregtigheid kan geskied.
“My suster is bykans vier jaar gelede op wreedaardige en selfsugtige wyse van ons af weggeneem – en tog gaan daar nie ‘n enkele dag verby wat ons rus of vrede oor haar dood het nie,” het Stephanie Kercher geskryf.
Die appèlverhoor sal hervat word waar dit voor die somerpouse in laat-Julie afgesluit het. Onafhanklike kundiges sal ondervra word oor die versameling DNS-bewyse gebruik om Knox en haar vriend, Raffaele Sollecito van Italië, skuldig te bevind.
Die twee is in Desember 2009 skuldig bevind aan die seksuele aanranding en moord op Kercher in die woonstel wat Knox met die 21-jarige Brit gedeel het terwyl hulle in Perugia studeer het.
Knox is ‘n vonnis van 26 jaar tronkstraf opgelê en Sollecito het 25 jaar tronkstraf gekry.
Beide ontken steeds enige skuld en het teen die uitspraak geappeleer.
Die verhoor sal deur die loop van die week voortgaan, met die partye wat na verwagting hul sake sal opsom. ‘n Uitspraak sal later in September, ná die teenargumente gehoor is, gelewer word.
Knox se saak het ‘n hupstoot gekry nadat onafhanklike kundiges baie van die bewyse wat in die oorspronklike ondersoek ingesamel is bevraagteken het en gesê het die prosedures gevolg om dié bewyse te kry, het nie aan internasionale standaarde voldoen nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP