Knip ‘n uiltjie, wen ‘n prys
2010-10-21 22:39
Madrid – Spanje se eerste nasionale siësta-kampioenskappe het in Madrid afgeskop in die hoop om dié jare lange tradisie aan te wakker.
Tradisioneel is ‘n siësta ‘n kort slapie wat ná middagete geneem word met die doel om krag bymekaar te maak vir die res van die dag.
Deelnemers aan dié kompetisie moet vir sowat 20 minute op helderblou banke in ‘n besige winkelsentrum uitspan.
Monitors word aan die deelnemers se polse vasgemaak terwyl hulle ‘n uiltjie knip en die een wat vir die volle 20 minute kan wegsluimer, staan ‘n kans om met ‘n kontantprys weg te stap.
Daar word ook ekstra punte uitgedeel vir dié wat die hardste snork of die mees interessante slaapposisie inneem.
Hierdie projek is die inisiatief van die National Association of Friends of the Siesta.
“Die doel van die projek is mense aan te moedig om ‘n dutjie te vat, want dit is gesond en goed vir almal,” het die organisasie op sy webtuiste gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA