Klub-eienaar: Brand was 'hele land' se skuld
2013-01-31 09:35
Londen – Die mede-eienaar van ‘n Brasiliaanse nagklub waar meer as 230 mense in ‘n brand dood is, blameer “die hele land” vir die ramp, het sy prokureur gesê.
Jader Marques sê sy kliënt, Elissandro Spohr, “is spyt dat hy ooit gebore is” weens sy hartseer oor die brand, maar hy blameer die tragedie op “’n rits foute wat deur die hele land gemaak is”, berig Sky News.
Die polisie sê ‘n musiekgroep wat by die Kiss-nagklub in Santa Maria opgetree het, het vuurwerke gebruik wat die dak aan die brand gesteek het.
Die afwesigheid van ‘n brandalarm en sprinkelstelsel het dié wat probeer vlug het se lewens verder in gevaar geplaas. Die klub het ook net een deur gehad wat toegangklik was en die brandblusser was stukkend.
Marques het in ‘n telefoon-onderhoud met AP gesê: “My kliënt se verantwoordelikheid is dat hy te veel op die inspekteurs en in dié wat vir die konstruksie verantwoordelik was, vertrou het.”
Hy beweer ook openbare beamptes het die uitleg van die klub goedgekeur.
Alexandre Padilha, Brasilië se minister van gesondheid, het oorlewendes gevra om op hul hoede te wees vir simptome van “chemiese longontsteking” nadat die aantal mense wat beseer is na 143 gestyg het. Nog 22 mense is in die hospitaal opgeneem vir die toestand.
Die brand het ook nog ‘n lewe geëis. ‘n Jong man (21) met brandwonde oor 70% van sy liggaam, wie se broer ook in die brand dood is, het gesterf.
– Lees meer hier.
– Volg Nuus24 op Twitter