Klopjag by Japanse maatskappy ná tonnel ineenstort
2012-12-04 12:48
Tokio – Ondersoekbeamptes het Dinsdag 'n klopjag uitgevoer op die kantore van die operateur wat verantwoordelik is vir 'n tonnel wat die naweek in Japan ineengestort het.
Die klopjag is uitgevoer om te bepaal of die maatskappy versuim het om die nodige instandhoudingswerk aan die tonnel te doen.
Nege mense is dood toe drie voertuie Sondag platgedruk is ná dakpanele van beton in die tonnel van bykans vyf kilometer meegegee het.
Die Sasago-tonnel, op die Chuo-snelweg, loop deur koppies naby Berg Fuji, sowat 80 km wes van Tokio. Die tonnel is in 1977 geopen.
Central Nippon Expressway Co, die operateur van die tonnel, sê hy het geen rekords van enige herstelwerk sedert 1977 nie, maar Satoshi Noguchi, ‘n verteenwoordiger van die maatskappy, sê ‘n ondersoek in September het getoon dat die struktuur niks makeer nie.
Ondersoekbeamptes het Dinsdag verskeie van die maatskappy se kantore deursoek, insluitend sy hoofkwartiere.
“Ja, hulle deursoek ons kantore. Ons sal met hulle saamwerk,” het Osamu Funahashi, ook ‘n amptenaar by die maatskappy, gesê.
Die departement van vervoer het intussen beveel dat 49 ander tonnels in die land ook geïnspekteer moet word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP