Kleuter wil dagga met onnie deel
2012-01-27 09:06
Meriden (Connecticut) – ’n Vierjarige seuntjie wat tydens pouse vir sy onderwyser gesê het hy wil sy ete deel, het met nege sakkies dagga uit sy baadjiesak te voorskyn gekom, het die polisie Woensdag gesê.
Die polisie in Meriden, in die Amerikaanse deelstaat Connecticut, is Dinsdag na die Hanover Elementary School ontbied nadat die jong leerder die dwelms vertoon het. Volgens die polisie het die nege afsonderlik verpakte sakkies gelyk of dit gereed was om verkoop te word.
Die skoolhoof, Miguel Cardona, het dit ’n “uitsonderlik ongelukkige” voorval genoem.
“Die kind het nie ’n idee gehad wat hy skool toe gebring het of wat die inhoud van die sakkies was nie,” het die skole-superintendent van Meriden, Mark Benigni, gesê.
Daar kan moontlik inhegtenisnemings volg na afloop van ’n ondersoek. Die departement van kinder- en familiesake bekyk ook die voorval.
– Reuters
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger