Kleuter sterf toe sy alleen in motor gelos word
2011-10-26 16:51
Sydney – Australiese polisiebeamptes het ‘n vrou van manslag aangekla nadat haar kind weens dehidrasie gesterf het.
Daar word berig dat die 22 maande oue meisie gesterf het nadat sy glo alleen in ‘n motor gelos is.
Luidens ‘n polisieverklaring is die 30-jarige ma Woensdag van die moord op haar dogter aangekla.
Indien die vrou skuldig bevind word, sal sy moontlik ‘n maksimum vonnis van 25 jaar tronkstraf opgelê word.
Die polisie sê die vrou het verlede Donderdag haar dogter na ‘n mediese sentrum geneem, maar medici kon nie die kind bybring nie.
Polisiebeamptes het nie gesê hoe lank die kind in die voertuig gelos is nie.
Volgens ‘n nadoodse ondersoek het die kleuter weens dehidrasie gesterf.
Die ma se naam is nie bekendgemaak nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP