Kinders sterf nadat WOII-bom in veld ontplof
2011-03-24 19:00
Warschau - ‘n Negejarige meisie en haar tienjarige broer is dood nadat ‘n bom, wat vermoedelik oorgebly het uit die tweede wêreldoorlog, in ‘n veld in Pole ontplof het.
Die meisie het Donderdag gesterf. Haar broer is op slag dood toe die bom Dinsdag in die dorp Konskowola ontplof het.
Die twee kinders het in ‘n veld gespeel toe hulle die toestel gevind het. Die polisie wag op uitslae van toetse om te bepaal wat die ontploffing veroorsaak het.
Bomme uit die tweede wêreldoorlog word dikwels in Pole gevind, hoewel sterftes wat daarmee verbind word baie skaars is.
Ingenieurs het in Februarie 2010 ‘n bom uit die oorlog verwyder van die bouperseel van die Nasionale Stadion in Warschau, wat gebou word vir die Euro 2012-sokkertoernooi.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA