Kinders, ouers sterf toe man hul met byl aanval
2011-09-14 11:59
Beijing – ‘n Boer met verstandelike probleme het ses mense, waaronder twee kinders, met ‘n byl doodgemaak.
Volgens die plaaslike regering en mediaberigte was die ouers en kinders Woensdagoggend op pad skool toe, toe die voorval gebeur het.
Die voorval is die nuutste geval in ‘n reeks gewelddadige aanvalle op kinders in China, wat mense met vermeende psigologiese probleme betrek.
Kenners blameer dié aanvalle op vinnige sosiale veranderinge terwyl die land se ekonomie floreer.
Die 30-jarige aanvaller het die dodelike aanval in Gongyi uitgevoer. Dié stad is in China se Henan-provinsie geleë.
Een kind en drie volwassenes is op die toneel doodgemaak, terwyl ‘n ander kind en een volwassene in ‘n hospitaal aan hul beserings beswyk het, het die plaaslike owerhede in ‘n verklaring gesê.
“Volgens plaaslike inwoners het die verdagte, Wang Hongbin, ‘n geskiedenis van verstandelike siektes,” lui die verklaring.
Luidens ‘n plaaslike nuuswebtuiste www.dahe.cn was die volwasse slagoffers almal ouers wat hul kinders na ‘n kleuterskool geneem het.
‘n Werknemer by die Tongxing-kleuterskool in Gongyi het aan die nuusagentskap AFP bevestig dat die twee kinders leerlinge by die skool was.
Die anonieme bron het bygevoeg dat die aanval nie by die skool self gebeur het nie, maar in die straat. Sy wou nie verder kommentaar lewer nie.
Chinese owerhede word gedwing om veiligheid naby skole op te skerp ná ‘n reeks gewelddadige aanvalle op kinders. Die aanvallers het in meeste gevalle verstandelike probleme gehad.
Agt leerlinge is aan die einde van Augustus beseer toe ‘n personeellid by ‘n dagsorg in Sjanghai gewelddadig geraak het.
Verlede jaar is 17 mense – insluitende 15 kinders – in vyf aparte aanvalle by skole in China doodgemaak. Meer as 80 mense is in die voorvalle beseer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP