Kinders in hospitaal weens ma se daggakoekie
2011-01-26 20:00
San Fransisco - Die polisie in Kalifornië sê twee kinders is in die hospitaal opgeneem nadat hulle ‘n daggakoekie geëet het wat op ‘n kombuistoonbank gelê het.
Hul ma is in hegtenis geneem en word daarvan verdink dat sy die kinders in gevaar gebring het.
Lt. Tim Doonan van die polisie in Covina sê die meisies, onderskeidelik 10 en 11 jaar oud, het ‘n koekie met sjokoladestukkies in op die toonbank in ‘n sakkie gevind toe hulle van die skool af gekom het.
Doonan het aan die San Gabriel Valley Tribune gesê die meisies het siek geraak nadat hulle die koekie geëet het. Hulle het gekla van styfheid en taai vel en is in die hospitaal opgeneem. Toetse wat op hulle uitgevoer is, het op spore van dagga gedui.
Hul ma, die 33-jarige Veronica Sylvester, is steeds in aanhouding. Borgtog van $100 000 (sowat R700 000) is aan haar toegestaan.
Volgens Doonan het die ma aan speurders gesê sy het die koekie vir medisinale doeleindes by ‘n vriend gekry. Sy het egter nie ‘n voorskrif vir die dwelm nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP