Kinders beseer toe handgranaat ontplof
2011-07-03 16:59
Kaboel – ‘n Man, vermoedelik ‘n militante, op ‘n motorfiets het Sondag ‘n handgranaat na die hekke van ‘n skool in die noorde van Afganistan gegooi en 17 kinders beseer gelaat, het die ministerie van binnelandse sake in ‘n verklaring gesê.
Die voorval het in Maimana, die grootste stad in die Faryab-provinsie, plaasgevind. Die ministerie het bygevoeg dat die kinders in ‘n hospitaal opgeneem is. Twee van hulle was in ‘n ernstige toestand.
“Sewentien skoolkinders is beseer toe ‘n terroris-skieter op ‘n motorfiets ‘n handgranaat na die hoofhek gegooi het,” het die verklaring, wat ook die aanval veroordeel het, gelui.
‘n Jaarlikse VN-verslag het in Maart onthul dat die sterftes van burgerlikes in die oorlog in Afganistan verlede jaar met 15 persent toegeneem het en dat oproeriges verantwoordelik is vir 75% van die sterftes.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP