Kinderpornografie in Japan neem toe
2009-08-06 08:42
Tokio- Polisie in Japan het ‘n rekord aantal gevalle van kinderpornografie in die eerste helfte van die jaar ondersoek, het die media Donderdag berig.
Volgens die Kyodo-nuusagentskap is 382 gevalle in dié tydperk aangemeld wat 27.3 % meer as dieselfde tydperk verlede jaar is.
In die eerste helfte van die jaar is 218 kinders onder die ouderdom van 18 as slagoffers van pornografie aangemeld wat op ‘n 51.4% toename dui, terwyl die aantal mense wat ondersoek is vir die maak van kinderpornografie met 53.7% gestyg het.
Japan is ‘n groot bron van kinderpornografie op die internet en alhoewel die land se wetgewing die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie verban, is die besit daarvan nie onwettig nie.
Gesprekke oor die moontlikheid van strenger wetgewing rondom kinderpornografie is onderbreek vóór die verkiesing wat op 30 Augustus sal plaasvind.
-Sapa