Kindermolestering onder pous se aandag
2009-12-05 23:49
Dublin - Ierland se mees senior Katolieke gesagsfiguur sal vandeesweek pous Benedict XVI besoek om ‘n verdoemende verslag rakende kindermolestering te bespreek.
Die verslag vlek dekades se toesmeerdery van kindermolestering deur Katolieke priesters oop.
Kardinaal Sean Brady sal blykbaar saam met aartsbiskop Diarmuid Martin van Dublin na Vatikaan-stad reis om die pous in te lig oor die bevindinge van die verslag.
Volgens ‘n drie jaar lange ondersoek in Dublin het vier aartsbiskoppe herhaaldelik kindermolesteerders beskerm.
Hulle het ook nooit die bewerings aan die polisie bekend gemaak nie.
“Aarsbiskop Martin en ek gaan die pous besoek en die bevindinge aan hom voorlê,” het kardinaal Brady gesê.
“Ons hoop dat hy ons sal help om die probleem aan te spreek.”
Brady en Martin het al in die verlede ‘n soortgelyke verslag onder die pous se aandag gebring.
Hulle het in Mei ‘n verslag oor kindermolestering in Katolieke weeshuise na die pous geneem.
Die pous was blykbaar baie ontsteld oor die aantygings.
- Sapa