Kinderhandel-sindikaat oopgevlek, kinders gered
2013-02-22 18:06
Kuala Lumpur – Maleisiese polisiebeamptes het ‘n kinderhandel-sindikaat oopgevlek en 21 kinders en babas tussen een maand en nege jaar oud gered.
Altesaam 43 verdagtes, waaronder 20 vroue, is in hegtenis geneem in ‘n landswye ondersoek wat twee maande gelede begin het, het polisie in die staat Penang gesê.
“Die babas en kinders wat tussen een maand en nege jaar oud was, het uit 10 seuns en 11 meisies bestaan,” het die polisiehoof van die staat, Rahim Hanafi, in ‘n verklaring op die polisie se Facebook-blad gesê.
Hy het vroeër op ‘n mediakonferensie gesê die polisie het Donderdagaand klopjagte is ses state, sowel as die hoofstad Kuala Lumpur, uitgevoer, het berigte gelui.
“Ons werk ook nou saam met Interpol rakende ‘n paar van die kinders wat glo na buurlande geneem is,” het Rahim gesê.
Die verdagtes kan tronkstraf opgelê word wat wissel tussen drie en 20 jaar.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP