Kinder-martelaars kry 10 jaar
2011-02-11 21:22
Adelaide – Vier mense wat in 2008 ‘n groep kinders so erg mishandell het dat hulle breine weens wanvoeding gekrimp het, is vir tien jaar tronk toe gestuur.
Vyf jong kinders is daagliks gewurg, moes heel dag met hul hande op hul koppe staan en is skaars enige kos gegee.
Dié marteling het blykbaar vir meer as vier maande lank geduur.
“Hoe hierdie kinders behandel is, gaan die verstand te bowe,” het regter Kevin Duggan gesê.
Die kinders was almal tussen die ouderdomme van vier en sewe.
Die grusame omstandighede waarin hulle moes leef het aan die lig gekom ná een van die kinders weens hipotermie hospitaal toe moes gaan.
Vier volwassenes en 21 kinders het in die huis in Adelaide, wat regter Duggan as “onleefbaar” beskryf het, gewoon.
Die kinders se ma is reeds drie jaar agter tralies, ná sy skuldig gepleit het op 'n hele string aanklagte.
Hul pa, Luke Armistead (38) is to 10 jaar tronkstraf gevonnis.
Tania Staker (36) wat as die voorbok beskryf is en ook in 'n verhouding met die kinders se pa was, het nege jaar gekry.
Die ander twee volwassenes in die huis is elk vier jaar tronkstraf toegedien.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA