Kind 'gyselaar' gehou vir pizza
2009-09-09 12:21
Melbourne - ‘n Australiese man wat pizzas aflewer het ‘n vierjarige seuntjie glo 'gyselaar' gehou nadat hy en die kind se ma stry gekry het oor betaling.
Die afleweraar het Lisa Paardekooper se nefie, Cain, gegryp nadat sy geweier het om vir die pizza te betaal wat 'n uur laat was.
“Hy’t gesê gee 'terug die pizza of die geld',” het Paardekooper gesê.
“Hy’t sy arm deur die hek gedruk en vir Cain gegryp.”
Paardekooper sê die pizza-man het uiteindelik vir Cain laat gaan na sy hom met geweld gedreig het.
Volgens mediaberigte ondersoek die polisie tans die saak.
Die seun se ma, Cindy, het gesê dat diè behandeling van haar seun, onaanvaarbaar is.
“Hy’t my seun gegryp as losprys vir ‘n pizza... om ‘n kind te gryp, is kindermishandeling, dis aanranding,” het sy gesê.
Die afleweraar se baas het gesê dat hy steeds sy werk het.
“Ek kan nie glo dat hy die kind wou seermaak nie,” het Tessie Muscat Couturier, bestuurder van die restaurant, gesê.
- Sapa-AFP