Khmer Rouge: Kind hou gevangenes aan die lewe
2009-08-03 10:50
Phnom Penh, Kambodja - ‘n Man wat as kind as ‘n dokter by die afgryslike Khmer Rouge moordbewind se hoof tronk gewerk het, het aan Kambodja se kriminele hof vertel hoe hy gevangenes met spesiale pille aan die lewe probeer hou het.
Sek Dorn, wat nou 48 is, was net ‘n kind toe hy aangestel is om na gevangenes om te sien. Hy het gewonde en siek gevangenes pille ingegee wat hy ‘haas-korrels’ genoem het.
Dié pille is so genoem ondat dit baie na hase se ontlasting lyk en is ‘n tuisgemaakte mengsel wat gebruik is om ‘n groot verskeidenheid siektes en beseringe te behandel.
“Ek het die pille meestal vir gevangenes gegee om hulle aan die lewe te hou terwyl hulle ondervra word”, het Dorn gesê.
Dorn het tydens die verhoor van oud-tronkhoof, Duch, wie se regte naam Kaing Guek Eav is, wat aangekla is daarvan dat hy die toesig gehou het oor die martelingsproses en teregstelling van sowat 15 000 mense by Tuol Sleng-tronk, getuig.
-Sapa