FOTO: Dié Kersboom is R75 miljoen werd
2010-12-20 09:05
Aboe Dhabi - Die luukse hotel in Aboe Dhabi wat meen hy stel die wêreld se duurste Kersboom ten toon, het Sondag erken hy het die Kersboomtradisie te ver geneem deur die boom met goud en edelgesteentes te behang.
Die boom, wat vier wagte 24 uur per dag oppas in die Emirates Palace Hotel, is $11 miljoen dollar (meer as R75 miljoen) werd.
Dit is behang met halssnoere, armbande, oorkrabbe en horlosies van een van die hotel se juweliers.
Die hotel het gister in ’n verklaring gesê hy is spyt oor sy pogings om die Kersboom “te oorlaai”.
Hans Olbertz, die hotelbestuurder, het volgens plaaslike koerante verlede week gesê die 13 m hoë boom is behang met 131 ornamente.
Olbertz het gesê hy het saam met ’n hoteljuwelier gewerk om vanjaar ’n unieke boom en Kerservaring vir sy gaste te skep.
Die hotel mag dalk later Guinness World Records kontak omdat hy meen dit is die wêreld se duurste Kersboom, berig AP.
BBC News berig die boom alleen is $10 000 dollar (sowat R68 500) werd.
Die juwele hieraan bevat 181 diamante, pêrels, smaragde, saffiere en nog gesteentes.
- Volg Nuus24 op Twitter.