Kerke in Nederland raak ál minder
2011-09-06 07:00
Den Haag. – Die gevestigde kerke in Nederland kwyn al hoe meer. Dit het pas bekend geword dat slegs 7 000 van die 19 000 kerke in dié land nog as huis van aanbidding gebruik word.
Die syfer is deur die organisasie Overleg Provinciale Erfgoedhuizen in Nederland bekend gemaak.
Die orige 12 000 kerkgeboue word tans vir ander doeleindes gebruik of daar word na ander maniere gesoek om hulle aan te wend.
Tans is 63 kerke te koop. Sommige van die kerke word omskep in woonstelgeboue. Ander word as museum benut. In die Middeleeuse stad Maastricht is ’n groot boekhandel in ’n Gotiese kerk gehuisves, terwyl nog ’n ander eeue-oue kerk in ’n hotel omskep is.
Die meeste van die ouer kerke mag nie afgebreek word nie omdat hulle tot nasionale monumente verklaar is.
Dit hang saam met die algemene agteruitgang van die gevestigde kerkgenootskappe in Nederland. Die Protestantse Kerk van Nederland (PKN), ’n samesmelting van die ou Gereformeerde, Hervormde en Evangelies-Lutherse Kerk, verloor tot 60 000 lidmate per jaar, en die verliestempo by die Rooms-Katolieke is nog vinniger.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger