Kerk sê nee vir swart paartjie se troue
2012-07-29 07:36
Washington – 'n Paartjie van Mississipi is geskok nadat 'n pastoor hulle in kennis gestel het dat hulle nie in sy kerk kan trou nie, omdat hulle swart is, berig die ABC-televisiekanaal.
Past. Stan Weatherford het aan die televisiekanaal gesê daar is sedert die First Baptist Church in Crystal Springs in 1883 gestig is, nog nooit 'n troue vir swartmense gehou nie.
Hy het gesê sommige van die wit lidmate is só gekant teen die troue van Charles en Te'Andrea Wilson, dat hulle gedreig het om hom te laat afdank.
Weatherford, wat wit is, het aangebied om die paartjie by 'n nabygeleë kerk, wat meestal swart lidmate het, in die huwelik te bevestig.
"My negejarige dogter gaan saam met ons kerk toe. Hoe sê jy aan jou dogter 'ons kan nie hier trou nie, want liefie, ons is swart," het Charles Wilson gesê.
Wilson het aan die TV-kanaal gesê die hulle het beplan om ná hul troue op 20 Julie as lidmate by die kerk aan te sluit. Die paartjie het later ingestem om in 'n ander kerk te trou.
Plaaslike inwoners het hul skok uitgespreek oor die kerk se optrede.
"Daardie kerk was hul huis," het Theresa Norwood (48), 'n plaaslike inwoner gesê.
"Wat sou Jesus doen? Hy sou hulle sonder enige twyfel getrou het, want dit is die regte ding om te doen. Ons is almal God se kinders."
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP