Kerk in Aus onthul 600 gevalle van mishandeling
2012-09-22 12:10
Sydney – Die Rooms Katolieke Kerk in 'n Australiese staat het Saterdag onthul dat minstens 620 kinders sedert die 1930's deur priesters gemolesteer is.
Die kerk het dié syfers in 'n voorlegging aan 'n parlementêre verhoor onthul, maar bygevoeg dat voorvalle van kindermishandeling dramaties afgeneem het sedert die skokkende syfers van die 1960's en 1970's.
"Dit is skandelik en skokkend dat hierdie mishandeling, met sy dramatiese impak op die slagoffers en hul families, deur Katolieke priesters uitgevoer is, het die aartsbiskop van Melbourne, Denis Hart, gesê.
Die volledige verslag is nie openbaar gemaak nie, maar die kerk sê die meeste van die 620 sake hou verband met voorvalle wat 30 tot 80 jaar gelede plaasgevind het.
Hart sê die kerk het stappe geneem om die situasie aan te spreek insluitende 'n program, wat in die 1990's geïmplementeer is, om 'n onafhanklike ondersoek te begin asook 'n beradingsprogram.
Ondersteuners van die slagoffers sê egter die aantal kinders wat mishandel is, is waarskynlik veel meer as wat die kerk met sy eie ondersoek bevestig het.
Die president van die regsinstituut in Victoria, Michael Holcroft, sê daar is 'n dringende behoefte na meer onafhanklike ondersoeke.
Die staat Victoria het 'n ondersoek na die hantering van gevalle van kindermishandeling deur kerk-owerhede gelas nadat talle mense, wat deur priesters gemolesteer is, in dié staat begin selfmoord pleeg het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP