Kerk: Gay-wees 'n 'keuse'
2009-12-23 17:47
Moskou - Die hoof van die Ortodokse kerk in Rusland het gesê hoewel die kerk homoseksualiteit as 'n sonde beskou, daar nie teen mense wat gay is diskrimineer moet word nie.
Kiril I, kerkvader van dié denominasie in Rusland, het gesê "diegene wat sonde pleeg" moet nie gestraf word nie en dus staan die kerk enige diskriminasie tee.
Huwelike tussen mense van dieselfde geslag moet egter nie as gelyk geag word as die huwelik tussen man en vrou nie, het hy gesê.
"Ons aanvaar al die keuses wat 'n persoon maak - dit geld vir hul seksualiteit ook," het die kerkvader aan die RIA Novosti nuusagentskap gesê.
Kampvegters vir gayregte argumenteer dat homoseksualiteit nie verkeerd is nie, aangesien dit iets is wat van geboorte af binne 'n mens is. Die kerk hou egter voet by stuk dat dit 'n keuse is.
Dit is nie duidelik tot watter mate Kiril I die kerk se dogma gaan verslap nie. Hy het hierdie uitlatings gemaak tydens 'n vergadering met die Europese Raad se sekretaris-generaal, Thorbjorn Jagland.
Teenkanting vir gayregte staan steeds sterk in Rusland, waar homoseksualiteit eers in 1993 wettig gemaak is.
Kiril I, wat in Januarie as kerkavder verkies is, word beskou as 'n modernis en iemand met 'n kop vir die politiek. Tot dusver het hy nog geen groot of duidleike uitlatings gemaak wat 'n verandering in die kerk se kosnerwatiewe standpunte oor homoseksualiteit en aborsie aandui nie.
- Sapa-AP