Kat- en hondepelse op webwerf te koop
2010-12-26 09:40
China - Derduisende produkte wat van die velle van honde en katte gemaak word, kan op die webwerf van China se grootste winkelgroep, Taobao, gekoop word.
’n Herrie het die afgelope week in dié land losgebars nadat diereliefhebbers die winkelgroep die stryd aangesê het.
Die verkoopsrekords van Taobao toon die gewildste artikels op dié webwerf, waar verskeie onafhanklike handelaars hul ware kan verkwansel, is broeke en hoede wat van hondevel gemaak is en wat glo die koue sal weghou.
Een verkoper met die naam sjz2ys het gespog dat al die katvelprodukte wat hy te koop aanbied, outentiek is, hoewel hy die afgelope maand slegs een artikel – ’n katvelonderbaadjie – verkoop het.
Dierewelsynsaktiviste het daarop gewys dat handelaars gewoonlik rondloperdiere in strikke vang, hulle afslag, hul pelse aan handelaars in die ooste van China verkoop en hul vleis aan restaurante in die suide.
“Ons het vrywilligers wat die diere beskerm, maar hul pogings is nie genoeg nie aangesien die regering te min aandag gee aan die probleem,” het mnr. Zhai Yining, ’n amptenaar van die Chinese vereniging vir die beskerming van klein diere, gesê.
Chinese diereliefhebbers het veral op ’n sosiale netwerk genaamd Douban hul stemme teen die handel in hond- en katvelle gelig.
“Sou enigiemand regtig gemaklik en gelukkig slaap as die matras waarop hulle lê ten koste van lewens gemaak is? Is dit nie wreed nie?” het een gebruiker op die katpelse gereageer.
Amptelik keer Taobao nie die verhandeling van hond- en katpelse op hul webwerf goed nie. Ingevolge die reëls op die werf sal diegene wat hond- of katprodukte deur hul webwerf verkoop, gepenaliseer word deurdat hul posisie op die werf afgeskaal sal word, maar volgens ’n anonieme amptenaar van hul diensverskaffer het Taobao se inspekteurs soveel werk dat hulle nie regtig die werf voldoende kan reguleer nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- AFP