Kastreer pedofiele, sê Pole
2009-09-29 01:47
Warsaw - Pole het ‘n wet goedgekeur wat aanvoer dat sekere seksoortreders chemies gekastreer moet word.
Hierdie wetgewing het kritiek vanuit menseregtegroepe gelok.
Volgens dié wet, moet pedofiele wat kinders onder die ouderdom van 15, òf ‘n lid van hul eie familie verkrag het, chemiese behandeling ondergaan voordat hulle uit die tronk vrygelaat word.
“Die doel hiervan is om die gevangene se psigiese toestand te verbeter en sy libido te verlaag. Sodoende word die risiko dat hy dieselfde oortreding sal begaan, aansienlik verminder,” het die regering ‘n ‘n verklaring gesê.
Donald Tusk, eersteminister, het verlede jaar sy wens vir verpligte kastrasie vir pedofiele uitgespreek.
Hy het aangevoer dat die term ‘mens’ nie vir diegene wat hul aan sulke walglike misdade skuldig maak, gebruik kan word nie.
“Daarom glo ek nie dat die ‘beskerming van menseregte’ enigsins op hulle van toepassing is nie,” het hy gesê.
Alhoewel sy uitsprake kritiek uitgelok het, het hy geweier om dit terug te trek.
“Enige behandeling wat onder dwang uitgevoer word, is nooit redelik nie. Die lewe kan gevalle teweeg bring wat die wet nog nie van kon droom nie,” het Piotr Kladoczny, menseregte aktivis, gesê.
Die wet moet nog finaal in die parlement goedgekeur word.
- Sapa