Karton-katedraal van R29 miljoen in Christchurch beplan
2012-04-16 08:34
Wellington – 'n Tydelike katedraal van karton sal in Christchurch gebou word om die historiese Anglikaanse gebou wat in verlede jaar se aardbewings vernietig is, te vervang, het amptenare Maandag gesê.
Die toring van die oorspronklike katedraal, 'n landmerk in dié Nieu-Seelandse stad, het in duie gestort in die aardbewing in Februarie 2011 waarin 185 mense dood is. Die struktuur het meer skade opgedoen in aardskuddings in Junie en Desember, en daar is uiteindelik besluit om dit te sloop.
Die kerk het Maandag planne onthul vir 'n tydelike katedraal wat ontwerp is deur die Japannese argitek Shigeru Ban.
Die gebou, wat sitplek vir 700 mense sal bied, behoort teen die einde van die jaar voltooi te wees.
Die struktuur, wat op 'n sementfondasie gebou sal word met kartonbuise, houtbalke en staal, sal sowat NS$ 4,5 miljoen (ongeveer R29 miljoen) kos.
"Dit sal 'n plek vir mense wees om te kom besin oor dit waardeur ons is, en om hopelik inspirasie vir die toekoms te kry," het Richard Gray, die projekbestuurder, gesê.
Ban het al vantevore geboue met 'n kartonstruktuur gebou ná aardbewings in ander wêrelddele – onder andere in Japan se Kobe-streek, in L'Aquila in Italië, en Haïti – maar dié katedraal is sy grootste tot dusver.
"Die sterkte van die gebou het niks te doen met die sterkte van die materiaal nie," het hy gesê.
"Selfs betongeboue kan maklik deur aardbewings vernietig word. Maar papiergeboue kan nie deur aardbewings vernietig word nie."
Werk aan die katedraal sal volgende week begin.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP