Kaptein vas ná olie op NS-strande uitspoel
2011-10-13 08:06
Tauranga, Nieu-Seeland – Die Filippynse kaptein van ’n skip wat op ’n klipbank vassit, is in hegtenis geneem nadat sowat 70 houers in die onstuimige see beland en olie op strande uitgespoel het.
Mauro Balomanga het Woensdag in ’n hof in Tauranga verskyn te midde van ’n swaar polisieteenwoordigheid.
Hy word daarvan aangekla dat hy ’n skip op só ’n manier gestuur het dat hy onnodige gevaar veroorsaak het.
Hy is borgtog toegestaan en moet weer op 19 Oktober in die hof verskyn. Die hof het gelas geen foto’s van hom mag gewys word nie nadat sy prokureur vrese uitgespreek het dat “die publiek eie reg kan gebruik”.
Luidens berigte is Balomanga slegs sedert Maart die kaptein van die skip.
’n Maksimum boete van NS$10 000 (sowat R62 000) of 12 maande tronkstraf kan opgelê word.
Tot 300 ton olie het uitgelek in die sensitiewe omgewing van die Bay of Plenty sedert verlede Woensdag, toe die Liberies geregistreerde Rena op die Astrolabe-rif, 22 km van die kus van die Noord-Eiland, gestrand het.
Vraghouers het oornag in die onstuimige see getuimel, het Maritime New Zealand (MNZ) Woensdag gesê, maar hulle bevat nie gevaarlike materiaal nie.
Elf houers wat gevaarlike materiaal bevat is steeds op die skip. ’n Lugopname wat vir later vandag beplan is, sal ’n beter aanduiding gee van hoeveel houers in die see beland het.
Mense is gewaarsku hulle sal vervolg word as hulle sou probeer om van die inhoud te steel.
Radio New Zealand het berig ’n drywende hyskraan is op pad om die oorblywende houers te verwyder. – Sapa-AFP
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld