Kaptein het skip 'lank voor passasiers verlaat'
2012-01-15 12:15
Rome – Die kaptein van die Costa Concordia het die luukse skip verlaat "lank voor" die laaste passasiers uit die wrak ontruim is, het die staatsaanklaer in die ondersoek na die ramp Sondag gesê.
Op die vraag op die nuuskanaal SkyTG24 of Francesco Schettino die skip verlaat het voor al die passasiers ontruim is, het Francesco Verusio, staatsaanklaer, geantwoord: "Ongelukkig kan ek dit bevestig".
Schettino, die kaptein, is Saterdag op aanklag van veelvuldige manslag in hegtenis geneem.
Die staatsaanklaer het ook gesê die skip was nie op koers nie, en dat die kaptein op die brug was en "dus verantwoordelik was vir die bedrywighede".
Verusio het gesê die moontlike verantwoordelikheid van ander mense behalwe die kaptein, word ook ondersoek.
Op die vraag of die bemanningslede nie reg voorberei is nie, het hy gesê "dit is eerder 'n bevelstelsel wat nie reg funksioneer het nie".
Italiaanse media berig dat die kaptein 23:40 (00:40 SA tyd) aan die kuslyn was, terwyl die laaste passasiers eers 05:00 (07:00 SA tyd) ontruim is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP