Kantore van satiriese koerant aangeval
2011-11-02 21:09
Parys – Die kantore van ‘n satiriese Franse koerant
wat 'n uitgawe ter ere van die Arabiese Lente gepubliseer het, is afgebrand.
Die profeet Mohammed het op die voorblad van
dié uitgawe as “gasredakteur” verskyn en daar word beweer dat die aanval op
die kantore hiermee verbind kan word.
Die koerant, Charlie Hebdo, het dié uitgawe
tot Charia Hebdo herdoop.
Op die voorblad van die spesiale uitgawe was ‘n
strokiesprent van die profeet Mohammed wat sê: “100 houe as jy jou nié doodlag
nie”.
Die profeet Mohammed, met ‘n rooi hanswors-neus
op, was ook op die agterblad te sien, saam met die woorde “Ja, Islam is versoenbaar met
humor”.
Kuberkrakers het die koerant se webwerf aangeval
en die gewone tuisblad vervang met ‘n foto van die Groot Moskee in Mecca.
Onderaan die foto het die woorde “Geen god
behalwe Allah” verskyn.
Die webwerf is intussen onbeskikbaar gemaak.
Franse owerhede het die aanval verdoem en hul
ondersteuning aan die koerant gebied.
“Vryheid van uitdrukking is ‘n onvervreembare
reg in ons demokrasie. Alle aanvalle op die vryheid van die pers
word ten sterkste veroordeel. Geen saak kan so ‘n gewelddadige daad
regverdig nie,” het die Franse premier, Francois Fillon, in ‘n verklaring gesê.
Die brand by die koerant se kantore in die
ooste van Parys het om twee-uur die middag uitgebreek.
Volgens die polisie is die brand waarskynlik deur ‘n petrolbom begin.
Niemand is in die brand beseer nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP