Kangaroe hop in Oostenryk rond
2010-08-20 04:59
Wene – Geen kangaroes in Oostenryk? Verkeerd! ‘n Soektog is van stapel gestuur nadat een van dié buideldiere onlangs ontsnap het.
Sumsi het sowat twee maande gelede uit ‘n privaat dieretuin in Preding ontsnap en hou plaaslike inwoners besig deur gereeld onverwags sy verskyning te maak.
Toeriste wat Oostenryk besoek kan T-hemde aanskaf met die woorde “No kangaroos in Austria” daarop gedruk, om dat dié land gereeld met Australië verwar word. Maar nou het Sumsi selfs dié entrepreneurs se planne deurmekaar kom krap.
Plaaslike brandweermanne het onlangs ‘n hele koringland afgekamp nadat iemand glo vir Sumsi daar sien rondspring het. Hy het hul almal egter weer geflous en op die vlug geslaan.
Magrid Brauchart, operateur by die dieretuin, is egter daarvan oortuig dat iemand Sumsi gesteel het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP