Kangaroe bespring sielkundige
2009-09-17 08:46
Sydney- ‘n Sielkundige in Queensland, Australië moes uit haar kantoor gered word nadat ‘n kangaroe deur haar kantoorvenster gespring het en al die meubels wild omgestamp het.
Suzanne Habib het histeries bo-op haar lesenaar gespring en om hulp geskree toe die 1.5m kangaroe met ‘n yslike slag deur die venster gebreek het.
“Arme ou Suzanne. Sy het het so geskree en omtrent deur die lug gevlieg toe die kangaroe ingestorm het,” vertel Tony Baddock, ‘n kollega van Habib.
“Die kangaroe het nogal wild tekere gegaan en orals in die kantoor rondgespring.”
Volgens Baddock moes hy oor ‘n boekrak klim om Suzanne uit haar penarie te red. Daarna het die kangaroe vir nog sowat ses minute in die kantoor gebly voordat hy na die res van die gebou begin spring het.
“Ek het hom voorgekeer en in die rigting van die voordeur gestuur,” het Baddock bygevoeg. Die dier het amper trompop in ‘n omstander vasgespring voordat hy by die deur uitgespring het.
Queensland is ‘n hele afstand van die wildernis af en kangaroes is oor die algemeen sku en sal selde tussen mense inbeweeg.
In ‘n soortgelyke voorval vroeër vanjaar het ‘n sjef, net geklee in sy onderklere, ook die nuus gehaal toe ‘n kangaroe by sy slaapkamervenster in Canberra ingespring het.
Die sjef, vanuit Switserland, het gesê dat hy eers gedink het dit is ‘n “mal ninja” wat so in sy kamer tekere gaan. Hy het die kangaroe aan die nek gegryp en by die voordeur uitgegooi. Behalwe vir ‘n paar skraapmerke aan sy agterstewe het die sjef niks oorgekom nie.
–Sapa, AFP
Word 'n fan van Nuus24 se Facebook-blad en bly op hoogte van al die jongste nuusgebeure terwyl jy op jou gunsteling- sosiale netwerk kuier.