Kaboel brand oor Islam-rolprent
2012-09-17 12:25
Kaboel – Honderde Afgane het Maandag die strate van Kaboel ingevaar in die jongste gewelddadige betogings oor 'n omstrede video deur 'n Amerikaans-Israeliese regisseur wat glo beledigend teenoor Islam is.
Betogers het klippe gegooi na 'n Amerikaanse militêre basis, motors aan die brand gesteek en slagspreuke teen die VSA gedreunsing.
Die betoging het naby basisse van Navo en die VSA plaasgevind ná die hoof van Hezbollah, 'n Libanese beweging wat deur die VSA as 'n terroristegroep beskou word, gevra het vir 'n week van protesoptogte.
Meer as 1 000 Afgane het aan die betogings deelgeneem, het Mohammad Ayoub Salangi, polisiehoof van Kaboel, aan AFP gesê.
Sowat 40 tot 50 polisiebeamptes is "gering beseer" deur mense wat klippe gegooi het en stokke rondgeswaai het, het Salangi gesê.
Dik rookwolke het in die lug gehang van brandende buitebande, en groot klippe het paaie vol gelê, terwyl talle winkeleienaars besluit het om liefs vir die dag huis toe te gaan.
'n Polisiebeampte wat slegs as Hafiz geïdentifiseer is, het gesê betogers het ook klippe gegooi na Camp Phoenix, 'n militêre basis in die gebied wat deur die VSA bestuur word.
Die rolprent Innocence of Muslims, wat glo in die VSA vervaardig is, het gewelddadige protesoptogte in verskeie dele van die Islamitiese wêreld veroorsaak.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP