Kaboel: Selfmoordaanvaller slaan toe naby Navo-basis
2012-11-21 08:14
Kaboel – 'n Selfmoordbomaanvaller het Woensdag naby 'n Navo-basis in Kaboel se diplomatieke distrik op 'n militêre voertuig toegeslaan en twee lewens geëis, het die polisie en 'n militêre woordvoerder bevestig.
"Dit wil voorkom of 'n Isaf-voertuig in die aanval beskadig is," het 'n woordvoerder vir die Amerikaans-geleide International Security Assistance Force (Isaf) aan die nuusagentskap AFP gesê.
'n Fotograaf van AFP het drie lyke, insluitend dié van die aanvaller, naby 'n groot Navo-basis in die distrik gesien.
Die bom kon oor die hele distrik gehoor word, en 'n alarm het by die Amerikaanse ambassade afgegaan om personeel te waarsku om skuiling te vind.
"Dit was 'n selfmoordaanval. Twee mense is dood – een was 'n veiligheidswag en die ander was 'n burgerlike. Een ander persoon is beseer," het Sediq Sediqqi, 'n woordvoerder vir die departement van binnelandse sake, gesê.
Mohammad Ayoub Salangi, polisiehoof van Kaboel, het gesê die aanvaller het 'n veiligheidswag-uniform gedra en het 'n outomatiese vuurwapen en handgranate by hom gehad.
Veiligheidswagte het op hom geskiet, maar hy het daarin geslaag om die bom te laat afgaan.
Niemand het tot dusver vir die aanval verantwoordelik aanvaar nie, maar selfmoordbomaanvalle is 'n algemene taktiek van Taliban-lede in die gebied.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP