Kaal passassier maak amok op vlug
2011-06-11 20:09
Madrid - Die Spaanse lugredery Iberia het bevestig dat 'n passassier op 'n vlug met 110 mense aan boord onderweg na Duitsland van sy klere ontslae geraak het en die vlieënier genoop het om terug te draai na Madrid enkele minute ná die vliegtuig opgestyg het.
"Die vlug het Donderdag omstreeks 19:45 opgestyg en nie lank daarna nie het 'n man al sy klere uitgetrek, 'n bohaai opgeskop en hom toe in die toilet toegesluit," het Santiago de Juan, 'n woordvoerder van Iberia, Saterdag gesê.
Hy wou nie die nasionaliteit van die passassier bekend maak nie maar het gesê die insident het aansienlike ongerief veroorsaak op 'n "vlug wat byna vol passassiers was, en wat hulle bestemming in Frankfurt laat bereik het ná die polisie aan boord moes kom om die man te verwyder."
De Juan het gesê probleme op vlugte word gewoonlik deur dronk passassiers veroorsaak, maar dat alkohol dié keer nie 'n rol gespeel het nie.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP