Kaal fietsryer is skotvry
2010-03-04 07:18
Wellington (Nieu-Seeland)- Die skuldigbevinding van ’n 40-jarige man dat hy kaal fietsgery het op ’n openbare pad is deur die hooggeregshof hier nietig verklaar. Die regter het bevind dat sy gedrag nie afstootlik was nie.
Nick Lowe, ’n bouer, is verlede jaar NS$200 (toe net meer as R1 000) deur ’n laer hof beboet vir afstootlike gedrag toe hy kaal op sy fiets gery het op ’n stil, plattelandse pad in Upper Hutt, nagenoeg 30 km van Wellington.
Dit was gedurende die World Nude Bike Day. Hy is aangekla toe ’n motoris die polisie ontbied het.
“Dit gaan oor lewenstyl,” het Lowe destyds aan die Dominion Post gesê. “Om aan te trek is ongemaklik. Dis nie ekshibisionisme nie – ek’s net ongemaklik in klere. Ek is kaal by die huis, ek is kaal wanneer ek gras sny en ek doen tuinwerk kaal. Stink, sweterige klere – hoekom (klere dra) wanneer jy dit nie hoef te doen nie?” – Sapa-dpa