Kaal bestuurder saai chaos 'op vlerke van liefde'
2011-10-30 23:09
Moskou – ‘n Motorbestuurder in Moskou het Sondag teen 17 motors in die Russiese hoofstad gebots in ‘n dronk jaagtog terwyl hy kaal agter die stuur gesit het.
Hy het later verduidelik hy het gevlieg “op vlerke van liefde”, het die polisie gesê.
‘n Polisiewoordvoerder het gesê die man was nie nugter agter die stuur nie en het beheer verloor. Hy het teen 13 motors van burgerlikes en vier polisievoertuie gebots, het die RIA Novosti-nuusagentskap gesê.
Toe die man ná ‘n jaagtog voorgekeer is, het hy uit sy motor geklim. Hy was duidelik dronk en heeltemal kaal, het die woordvoerder gesê.
Russiese nuusagentskappe het nie die bestuurder se naam genoem nie, maar die webwerf lifenews.ru het berig die man is ene Vitaly G., ‘n Moldowiër wat onlangs ‘n Russiese burger geword het.
“Ek het gevlieg op die vlerke van liefde,” het Vitaly G. gesê in ‘n kassetopname van sy verklaring, wat deur die webwerf verkry is.
“Die dag vantevore het my geliefde gesê sy is nie meer gereed om ‘n ernstige verhouding te hê nie,” het hy gesê en bygevoeg dat hy op die jaagtog gegaan het uit frustrasie, aangesien dit gevoel het of die wêreld teen hom is.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP