Jurielid kontak beskuldigde op Facebook
2011-06-17 08:24
Londen – ’n Jurielid wat ’n beskuldigde deur Facebook gekontak het en só belastingsbetalers miljoene ponde uit die sak gejaag het vir ’n mislukte hofsaak, is gister agt maande tronkstraf opgelê.
Joanne Fraill (40) was die eerste mens in Brittanje wat skuldig bevind is aan minagting van die hof deur die gebruik van die internet, en die prokureur-generaal hoop haar saak sal as waarskuwing vir ander dien.
“Ek hoop dit sal ander afskrik,” het Edward Garnier, prokureur-generaal, aan verslaggewers gesê.
“Dit is belangrik dat die integriteit van ons regstelsel en die integriteit van ons juriestelsel gehandhaaf en waargeneem word.”
Fraill het in die Londense hooggeregshof erken sy was deur Facebook in kontak met Jamie Sewart (34), ’n vrou wat verlede jaar in ’n voortslepende dwelmsaak in die noordelike stad Manchester onskuldig bevind is.
Sy het ook erken sy het ’n internet-soektog na Sewart se kêrel, Gary Knox – ’n medebeskuldigde, gedoen terwyl die jurie steeds aan die beraadslaag was.
Belastingbetalers moet nou pa staan vir ’n rekening van £6miljoen (sowat R66,3miljoen) nadat die regter die jurie moes ontslaan weens Fraill se aksies.
Fraill het haar kop op die tafel geplaas en onbeheersd gehuil toe haar straf aangekondig is.
Hoofregter Igor Judge het haar beskryf as ’n “vrou van goeie inbors” en dat sy nie doelbewus die gereg wou dwarsboom nie.
Hy het egter gesê haar dade was ’n blatante verontagsaming van die regter se bevele in die betrokke saak en het gewaarsku tronkstraf vir ’n jurielid wat ’n soortgelyke misdryf pleeg is “feitlik onafwendbaar”.
Sewart is volgens die Press Association ’n vonnis van twee maande, opgeskort vir twee jaar, opgelê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters Life!
- Die Burger