Julian Assange dalk gou uitgelewer
2011-11-04 07:21
Den Haag – Die kans is goed dat Julian Assange, stigter van WikiLeaks, voor die einde van die maand op aanklag van verkragting aan Swede uitgelewer sal word.
Twee regters van die Londense hooggeregshof het Assange se appèl teen ’n beslissing in Februarie van ’n magistraat dat hy wel uitgelewer mag word, van die hand gewys.
Assange het bekendheid en berugtheid verwerf toe WikiLeaks tienduisende vertroulike boodskappe tussen Amerikaanse diplomate wêreldwyd en die departement van buitelandse sake gepubliseer het.
Assange het dit aanvanklik in samewerking met verskeie gerespekteerde koerante en tydskrifte gedoen, maar naderhand met hulle en sommige van sy naaste medewerkers stry gekry. Waar hy aanvanklik sorg gedra het dat die name van sekere mense uit die boodskappe verwyder word sodat hul lewe nie bedreig word nie, het hy later nie meer dié moeite gedoen nie. Van sy medewerkers het hoogs onvleiende beskrywings oor sy werkwyse en karakter gemaak.
Sy geld is op en hy sal sy organisasie moontlik moet sluit.
Assange is aangekla van die verkragting van ’n Sweedse vrou by wie hy tydens ’n besoek aan dié land tuisgegaan het. Sy verweer voor die Britse howe het daarop neergekom dat wat hy in Swede gedoen het – hy het daarop aangedring om sonder ’n kondoom seks met die vrou te hê – kragtens die Britse reg nie op verkragting sou neerkom nie.
Na bewering het hy ook ’n ander vrou “seksueel gemolesteer”.
Hy het ook prosedurele kwessies aangevoer. Die twee Londense regters, sir John Thomas en regter Duncan Ousely, het dit alles verwerp.
Hy kan nog toestemming vra dat die appèlhof sy saak ook bekyk. As Thomas en Ousely nie dié toestemming verleen nie, moet Assange binne tien dae uitgelewer word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad