Joseph Stalin se dogter sterf
2011-11-29 13:00
Chicago – Die enigste dogter van die Sowjet-tiran Joseph Stalin is in die ouderdom van 85 oorlede, het The New York Times Maandag berig.
Svetlana Stalina is op 28 Februarie 1926 gebore en het ‘n epiese en komplekse lewe gehad wat in “obskuriteit en armoede” geëindig het, het die koerant berig.
Sy het op 22 November in die stad Richland Center in die Amerikaanse staat Wisconsin aan kolon-kanker gesterf.
Ná haar pa se dood in 1953 het sy haar ma se nooiensvan, Alliluyeva, geneem.
Sy het in 1967 na die Weste uitgewyk en kritiek oor die Sowjet-Unie uitgespreek.
In 1970 het sy haar naam na Lana Peters verander ná haar uitwyking en kort huwelik met die Amerikaanse argitek William Wesley Peters.
Die diktator se dogter kon egter nooit uit haar pa se skaduwee ontsnap nie.
Peters het in 2000 in ‘n onderhoud met Wisconsin State Journal gesê sy is “taamlik gelukkig” in Wisconsin, maar het gesê haar pa het haar lewe verwoes.
“Waar ook al ek gaan,” het sy gesê, “hier, of Switserland, of Indië, of waar ook al. Australië. Een of ander eiland. Ek sal altyd ‘n politieke gevangene van my pa se naam wees.”
“Hy was ‘n baie eenvoudige man,” het sy aan die koerant gesê. “Baie ongeskik. Baie wreed...”
“Hy was lief vir my en wou hê ek moet saam met hom wees en ‘n opgevoede Marxis word.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP