Joernalis kry 20 jaar vir ‘terreur’
2009-08-31 10:14
Colombo, Sri Lanka – Die hooggeregshof het ‘n Tamil-joernalis Maandag tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir terrorisme.
Volgens ’n hofamptenaar is J.S. Tissainayagam (45) skuldig bevind op aanklagte dat hy rassehaat veroorsaak het en terrorisme ondersteun het.
Tissainayagam het vir die plaaslike Sunday Times geskryf en sy eie webwerf, Outreachsl.com, bedryf.
Sy webwerf was gerig op die belange van Sri Lanka se Tamil-gemeenskap.
Die hof het beslis dat die joernalis geld ontvang het van ’n militante rebellegroep, Liberation Tigers of Tamil Eelam (LTTE), vir sy webwerf.
Die sogenaamde Tamil Tigers is onlangs deur Sri Lanka se weermag verower.
Tissainayagam is die eerste joernalis wat volgens Sri Lanka se wet op die voorkoming van terrorisme gevonnis word.
Hy is sedert sy inhegtenisneming in Maart 2008 in aanhouding.
- Sapa-AFP