Joernalis en sy tolk ontvoer
2009-09-05 16:49
Kunduz, Afghanistan – ‘n Joernalis van die New York Times en sy Afghaanse tolk is Saterdag ontvoer nadat hulle die terrein van die dodelike Navo lugaanval in die provinsie Kunduz besoek het, het ‘n provinsiale leier gesê.
Die joernalis, wat gegaan het om met inwoners van Omarkhel te gesels, is deur millitante van die Taliban ontvoer, het Mohammad Omar gesê.
“Die joernalis wat vir die New York Times werk, en sy tolk, is deur die millitante geblinddoek en na ‘n onbekende bestemming geneem,” het Omar gesê.
Hy het bygevoeg dat sekuriteitsmagte van Afghanistan ‘n soektog in die omgewing geloods het om die ontvoerders vas te trek.
Die Afghaanse soldate het die joernalis se motor in die omgewing gevind, het Omar gesê.
‘n Taliban bevelvoerder in die Chardara distrik het bevestig dat hulle millitante die joernalis en sy tolk Saterdagoggend in Easakhel gevange geneem het.
Hy het gesê dat die Taliban leiers oor die mans se lot sal besluit.
- Sapa-dpa