Joernalis aangekla oor moord op kollega
2012-02-22 12:10
Moembaai – ‘n Vroulike joernalis wat vir ‘n voorste Indiese koerant werk is aangekla vir haar beweerde betrokkenheid by die moord op ‘n misdaadverslaggewer.
Die polisie sê Jigna Vora, ‘n joernalis van die Asian Age, word daarvan aangekla dat sy besonderhede oor ‘n senior-joernalis, Jyotirmoy Dey, aan sy moordenaars verskaf het.
Beamptes het Vora as ‘n “aanhitser” tot die misdaad beskryf in dokumente wat Dinsdag in Moembaai ingedien is.
Vora, wat in November in hegtenis geneem is, is aangekla onder wette teen moord, kriminele sameswering en die vernietiging van bewyse.
Die 37-jarige het Dey se huisadres en sy motorfiets se nommerplaat aan bendelede, wat vir Chhota Rajan wat glo die moord uitgevoer het, gegee, het die polisie gesê.
Dey het gereeld oor bende-aktiwiteite vir die koerant geskryf.
Hy is in Junie verlede jaar helder oor dag deur ‘n sluipskieter in die noorde van Moembaai doodgeskiet.
Rajan het glo 500 000 rupees (R77 280) aan die vermeende moordenaar, Satish Kalya, betaal.
Die koerant het ten tyde van sy dood gesê Dey was “‘n slagoffer van sy vreeslose joernalistiek”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP