Joernalis: Morgan moes geweet het van afluistering
2011-12-21 19:30
Londen – Piers Morgan, CNN-onderhoudvoerder, was 'n redakteur wat raakgevat het en hy moes geweet het sy koerant luister mense se stemboodskappe af, het 'n voormalige werknemer Woensdag beweer.
James Hipwell, 'n sake-joernalis, het gesê die afluistering van stemboodskappe het daagliks by Brittanje se Daily Mirror koerant, waar hy in die laat 1990's gewerk het, plaasgevind.
Hipwell het aan 'n Britse ondersoekspan gesê hoewel hy geen direkte bewyse het dat Morgan betrokke was by die afluistering nie was dit onmoontlik dat hy in die duister was daaroor.
Morgan was teen daardie tyd redakteur van die Daily Mirror.
"Niks het by die koerant gebeur sonder dat hy (Morgan) nie geweet het nie," het Hipwell getuig.
Voordat Morgan met sy televisieloopbaan begin het was hy in beheer van twee Britse poniekoerante. Hy was gedurende 1994 en 1995 redakteur van News of the World.
Die 46-jarige Morgan het reeds Hipwell se bewerings ontken.
Meer as 'n dosyn gewese News of the World-joernaliste is reeds in verband met die skandaal in hegtenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP