Jobs se mededingers vol lof vir sy werk
2011-10-06 10:15
Hongkong – Asië se tegnologie-reuse het Donderdag huldeblyke gebring aan Steve Jobs, met Sony en Samsung wat die mede-stigter van Apple as die voorste lig van die digitale era en ‘n inspirerende entrepreneur beskryf het.
Aanhangers in Japan en Singapoer het by Apple-winkels gebid, terwyl miljoene mense in China, die tuiste van die wêreld se grootste hoeveelheid internet-gebruikers, boodskappe op die internet uitgestuur het.
“Die digitale era het sy voorste lig verloor, maar Jobs se innovering en kreatiwiteit sal dromers en denkers vir generasies inspireer,” het Sony se president en uitvoerende hoof, Howard Stringer, in ‘n kort verklaring gesê.
Foxconn in Taiwan, ‘n reuse-verskaffer van Apple-produkte, het Jobs as ‘n visioenêre leier beskryf wat gehelp het om tegnologie “mooi” te maak.
Jobs is in die ouderdom van 56 aan kanker oorlede.
“Die internasionale elektronika-bedryf is soveel beter te danke aan al die bydraes wat hy gemaak het om te verseker dat tegnologie maklik verstaan kan word, mooi is, en die belangrikste, dat dit beskikbaar gestel word vir alle soorte mense,” het dit gesê.
“Die wêreld het ‘n ware held verloor en ek het ‘n vriend verloor,” het die stigter van Foxconn, Terry Gou, gesê.
Suid-Korea se grootste maatskappy, Samsung Electronics, wat in 'n regsgeding met Apple betrokke is oor patente, het Jobs beskryf as ‘n “wonderlike entrepreneur” met ‘n innoverende gees wat die tegnologiebedryf vernuwe het.
“Sy innoverende gees en die merkwaardige dinge wat hy bereik het sal vir altyd onthou word deur mense oor die wêreld heen,” het uitvoerende hoof Choi Gee-Sung gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP