Jobs 'het verander hoe ons die wêreld sien'
2011-10-06 13:43
San Francisco – Steve Jobs was die rockster van tegnologie en in sy dood word hy deur aanhangers, bekendes, politici en korporatiewe leiers betreur soos ‘n pop-ikoon.
By Apple se hoofkwartiere, wat deur Jobs 1 Infinite Loop gedoop is, het ‘n klein groepie roubeklaers blomme en ander items onder die maatskappy se kenteken geplaas terwyl ‘n enkele doedelsakspeler gehoor kon word en die maatskappy se vlag halfmas gehang het.
“Steve Jobs was my held,” het Lin Lin, ‘n sagteware-ingenieur, gesê.
Aanhangers het kerse, blomme en foto’s van Jobs na Apple-winkels oor Amerika geneem en het foto’s van die voormalige hoof van Apple op hul iPhones en iPads ten toon gestel.
Jobs “was net ‘n inspirasie vir my en my kollegas en my vriende,” het Steve Streza, 24, aan verslaggewers gesê.
In een park het ‘n klomp aanhangers ná die lui van ‘n Tibettaanse gebedsklok almal hul Apple-toestelle omhoog gehou in eer van Jobs, ‘n volgeling van Zen Boeddhisme.
Massas mense het buite sy huis in Palo Alto, Kalifornië saamgedrom, voordat die polisie die straat in sy stil woonbuurt gesluit het.
“Steve, jy het ons almal se lewens beter gemaak,” het een op die sypaadjie geskryf.
Pres. Barack Obama het ook sy medelye uitgespreek en het in ‘n verklaring gesê: “Daar kan geen groter erkenning van Steve se sukses wees nie as die feit dat baie mense in die wêreld van sy dood te hore gekom het op ‘n toestel wat hy uitgevind het.”
Obama het Jobs beskryf as een van “die grootse Amerikaanse innoveerders – dapper genoeg om anders te dink, braaf genoeg om te glo hy kan die wêreld verander en talentvol genoeg om dit te doen...
“Steve het daarvan gehou om te sê hy lewe elke dag asof dit sy laaste is.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA