Jemenitiese stam laat Noorse man vry
2012-01-27 15:55
Sanaa – ‘n Noorse burger wat byna twee weke gelede deur Jemenitiese stamlede ontvoer is, is vrygelaat en is in ‘n gesonde toestand, het bronne onder stamlede Vrydag gesê.
“Die Noorse man is veilig vrygelaat ná suksesvolle onderhandelinge. Hy is Donderdagaand aan die hoof van (die oostelike provinsie) Mareb oorhandig,” het Sheikh Sultan al-Adara, wat die onderhandelinge gelei het, aan die Jemenitiese webwerf Mareb Press gesê.
Gewapende stamlede het Gert Danielsen, wat vir die Verenigde Nasies Ontwikkelingsprogram gewerk het, op 15 Januarie in ‘n straat in die hoofstad, Sanaa, ontvoer en hom na Mareb geneem.
Die ontvoerders het die vrylating van ‘n stamlid, wat in hegtenis geneem is vir die moord op vier soldate, geëis.
Dit was nie duidelik of die owerhede die stamlid vrygelaat het nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA