Japanse tifoon eis 10, spaar kernaanleg
2011-09-22 11:15
Tokio – Minstens tien mense het gesterf in ‘n massiewe tifoon in Japan wat in 'n stadium gedreig het om in die rigting van die Fukushima-kernaanleg te beweeg, het beamptes en mediaberigte Donderdag gesê.
Tifoon Roke, wat deur die hoofeiland Honshu en die tsoenami-geteisterde noordoostelike gebied gevee het, het vloede en modderstortings veroorsaak.
Die tifoon kom minder as ‘n maand nadat ‘n storm sowat 100 mense se lewens geëis het.
Volgens die nuusagentskap AFP het die tifoon nie verdere skade by die kernaanleg veroorsaak nie. Die Fukushima-aanleg is op 11 Maart deur ‘n massiewe aardbewing en tsoenami beskadig.
Die openbare uitsaaier NHK en die nuusagentskap Jiji sê tien mense is reeds dood en vyf ander word vermis. Honderde mense is ook beseer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP