Japannese man is wêreld se oudste lewende man
2012-12-28 12:45
Tokio – 'n Japannese man het die wêreld-rekord ouderdom van 115 jaar en 253 dae Vrydag bereik, het die Guinness Book of Records gesê.
Jirouemon Kimura, van die stad Kyotango naby Kyoto, is op 19 April 1897 gebore en is "slegs die derde man in geskiedenis om 115 jaar oud te word," het Guinness gesê.
Kimura het 14 kleinkinders, 25 agter-kleinkinders en 13 agter-agter-kleinkinders.
Hy het vir 38 jaar by 'n plaaslike poskantoor gewerk. Na sy aftrede het hy tot die ouderdom van 90 geboer.
Die Guinness-organisasie het die oorhandiging van Kimura se sertifikaat uitgestel omdat hy onlangs in die hospitaal opgeneem was, het die Kyodo-nuusagentskap gesê.
Die vorige manlike rekordhouer was Thomas Peter Thorvald Kristian Ferdinand 'Christian' Mortensen van Amerika, wat gelewe het tot 115 jaar en 252 dae.
Die oudste persoon wat gelewe het is Jeanne Calment van Frankryk wat 122 jaar en 164 dae oud was en in 1997 dood is.
Kimura het vandeesmaand die oudste lewende persoon geword nadat Dina Manfredini van Iowa, Amerika in die ouderdom van 115 jaar en 257 dae oorlede is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA