Japan in sterk tifoon se visier
2011-09-01 10:21
Tokio – ‘n Groot en sterk tifoon is op pad na die weste van Japan en dreig om sterk winde en hewige reënval in dié deel van die land te veroorsaak.
Die Japanse meteorologiese agentskap sê die tifoon Talas beweeg sedert Woensdagaand in ‘n noordwestelike rigting oor die water naby die suidelike kus van Japan.
Volgens die agentskap word ‘n reënstorm in die kusgebiede van die ooste en weste van Japan verwag. Die agentskap voorspel reënval van 50 tot 70 mm per uur.
Hierdie seisoen se twaalfde tifoon kan Vrydag of Saterdag in die weste of sentrale gebiede van Japan verwag word, berig Sapa-dpa.
Die agentskap sê die tifoon het ‘n windsterkte van 126 km/h.
Intussen het inwoners van die Japanse hoofstad, Tokio, hul eerste oefenlopie gehad waarin hulle geoefen het om vir ‘n aardbewing te ontruim.
Die BBC berig die land hou jaarliks op 1 September dié oefenlopie.
Owerhede het vanjaar die oefensessie ernstiger opgeneem as gevolg van die aardbewing en tsoenami wat die noordoostelike deel van die land in Maart getref het.
Die doel was om te oefen hoe nooddiensvoertuie deur die verkeer en chaos ná ‘n aardbewing sal beweeg.
Skole en sakeondernemings regoor die land heen het ook ontruimings geoefen.
Lees meer hier.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Nuus24