Japan bou tsoenami-muur by kernaanleg
2011-09-14 23:17
Tokio – ‘n Japanse elektrisiteitsfirma gaan ‘n 18 meter hoë muur bou om ‘n
kernaanleg teen tsoenami’s te beskerm, het dié maatskappy Woensdag gesê.
Die bouwerk aan die 1.6 km-lange versperring, wat die Hamaoko-kernaanleg sal
beskerm, sal volgende week begin en teen die einde van 2012 voltooi wees, het Chubu
Electric Power in ‘n verklaring gesê.
Hamaoko, wat aan die Atlantiese kus sowat 200 km wes van Tokio geleë is, is
deur die regering beveel om sy kernreaktors af te skakel ná die kernkrisis in
Fukushima, wat vroeër vanjaar deur ‘n aardbewing en daaropvolgende tsoenami
veroorsaak is.
Die hoogte van die beskermende muur is vasgestel op grond van die geskiedkundige
rekords van tsoenami’s in die gebied.
Volgens seismoloë is daar ‘n 87% kans dat ‘n aardbewing wat tot 8 op die Richterskaal kan meet, die streek in die
volgende 30 jaar sal tref.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP